South Africa West Coast

Snoektyd - deur Abraham Brink


West Coast Explorer
SA West Coast
Information
Accommodation
Tours/Recreation
West Coast Map
Site Map
Nature Reserves
Fossil Park
Sea Tales & Wrecks
Floral Splendour
Birdwatching
Whale Watching
Guriqua History
Cuisine & Recipes
St Helena Bay
Velddrif/Laaiplek
Property Links
Letters/Posklip
Weskus Stories
Webdesign & Hosting
West Coast R27
Route 27
West Coast Towns
Off the Beaten Track
Accommodation
Eat Out List
Arts & Crafts List
Culture & History
From Crayfish to Iron
Abraham Brink II Voorwoord II Snoektyd II Byname en Poetse Bak

Gewoonlik teen die einde van Maart het die vis in die riwwe verdwyn - seker om te gaan vermeerder vir die volgende seisoen. Dit was tyd vir die vissers om hul skuite hoog teen die wal uit te sleep en die seëns en ander gereedskap te bêre. April tot Junie was snoektyd en daar is ywerig voorberei vir hierdie snoekvangseisoen.

Later in die jaar het die vissers nie meer snoek gevang nie, want dan het die snoek begin kuit skiet en maer geword. Daar het ook gedurende hierdie tyd `n soort wit linterige "wurm" in die snoek voorgekom.

Die geleerdes het gesê die "wurm" is onskadelik, maar die storie wou die vissers nie glo nie.

Voor April het die manne nie snoek gesoek nie, want hulle het geglo dit moet eers lekker reën en die Noordewind ook eers goed waai. Ja, die vonke uit die see moes eers waai. Dit was seker die "witperde", hierdie vonke waarvan hulle gepraat het.

Wanneer alles gereed was vir die groot snoekvangs, het hulle oorgetrek na die Agterbaai naby Stompneus. Hier het hulle beltente opgeslaan by die eiland - net so genoem, maar in werklikheid geen eiland nie. Vioolbaai was hoe die plek toe bekend gestaan het.

Kan dit wees dat die ou mense konsertina met viool gemeng het wanneer daar destyds op die misvloere van die kontrei gedans is? Hierdie tente was hul tydelike tuistes tydens die snoekseisoen. Hulle het alles wat nodig was, soos vlektafels, vistenke, sout en water saamgeneem.

Die snoek wat hulle gevang het, moes nog dieselfde dag ingesout en bewerk word. Koelgeriewe het nog nie bestaan nie en viskopers was maar skaars.

`n Groot snoek is `n bokwa genoem en het in die voloptyd vir `n sikspens verkoop. Hulle het egter van die meeste snoek mootjies gemaak en in tenke ingesout. Die ander is gevlek en dan op streepsakke gesout en in stapels gepak. So het dit vir `n hele nag gelê en is dit dan die volgende oggend in die seewater afgewas en opgehang om te droog.

Elke naweek het hulle huis toe gegaan om kos en voorrade te kry, maar die vleksnoek, "vars” mootjies, koppe en kuite het nie agtergebly nie. Sondagmiddae het hulle dan weer pad gevat. Agterbaai of liewers Vioolbaai toe. Wanneer die windjie in hulle guns gewaai het, is daar met die skuite geseil.

Op `n stil Sondagmiddag moes daar maar geroei word, want enjins vir skuite was daar toe nog nie. Die vissers van Laaiplek en Velddrif het wel met kotters uitgevaar, en in die Agterbaai self was daar enkele vissers wat bakkies besit het.

Wanneer die weer dit toegelaat het, het die vissers elke oggend vir die hele dag uitgegaan en teen laat namiddag teruggekeer. Hulle het hoofsaaklik in twee rigtings uitgegaan, naamlik reguit wes na Britanniabaai of noord na die Noordblinder.

Hierdie blinders is vlakkerige plekke en as die see `n effense skop in het, rol daar hoë deinings onder jou deur. Hulle was, en is seker nog, so hoog dat as jy in die "straat" is, jy geen skuit kan sien nie, maar gelukkig breek hulle darem nie.

Die vissers van daardie tyd het die snoek slegs in beweging gevang, met ander woorde, die skuit het gedurig beweeg.

Omdat daar nie aas was nie, is van die bokstang metode gebruik gemaak. Due visgerei was `n bebloede katoenlyn, met `n getwynde koperdraad vooraan, om te verhoed dat die snoek met sy gevaarlike tande die lyn afbyt.

Aan die koperdraad was `n vaartbelynde lood van ongeveer vier duim (10cm) lank en `n hoek van ook min of meer dieselfde lengte. Aan die lood en waar die hoek ook vas was, is die "aas" vasgemaak. Dit het uit repies geknipte sandhaaivel bestaan, met miskien `n stukkie gekleurde materiaal, soos rooi tabaksaktoutjies. Dit is die "dollie" genoem.

As die lyn ingegooi is, moes die sleeplengte dieselfde wees, sodat die snoek op dieselfde lengte en diepte gevang kon word. Ten spyte van die feit dat die skuit gedurig voortbeweeg het, moes die lyne nogtans so gekielie-kielie ingetrek word, sodat die haaivel soos wegswemmende vis gelyk het.

Hierdie was `n eentonige en frustrerende werk, veral as die snoek nie wou byt nie. Menige visserman het in die proses tou opgegooi, en sy lyn ingetrek.

Wanneer daar `n skool snoek raakgeloop is, het dit woes gegaan. Dit was net ingooi en uittrek vir die vales. Arms en hande het soos `n windmeul gewerk en was gou lam, maar hulle moes maar vasbyt. Wanneer jy `n snoek by die rug of pens haak, laat hy jou nogal vasvat.

Moenie `n bokwa-vang vergeet nie, hy laat jou kop hou. Jy kan ook nie jou snoek aan die lyn `n bietjie skiet gee om `n ruskansie te vat nie, want dan raak jou lyn tussen die ander verstrengel en is daar chaos op die skuit.

Dink net hoe gewild sou jy tussen jou makkers gewees het.

Om die lyn beter te kon vasvat, het hulle skyfies van `n motor se binneband vir die vingers gemaak. Elke visser het ook `n "olskyn" gehad - dit was van seil gemaak en met roulynolie geverf om dit waterdig te kry.

"Rubberboots" het toe nog nie bestaan nie en hulle het seker maar velskoene gedra of kaalpoot gewerk.

Omdat snoek so glad is, word dit stewig onder die blad ingeswaai wanneer dit aan boord is. Die duim word in die een oog gedruk en die ander vingers om die keel. Dan word die hoek uitgehaal en terug in die see gegooi. Die snoek is dan met `n snoekkierie op die kop doodgeslaan.

Die ou vissers was van geloof dat `n snoek pap sal word as dit nie behoorlik doodgeslaan is nie. Hy moet gevolglik nie lê en spartel in die boot nie. Deesdae breek hulle die snoek se nek deur net sy kop agteroor te knak.

Saans is die anker by die lêplek afgegooi en die skuit wal toe gestryk, waar die agterstewe aan `n paal op die wal vasgemaal is. Die paal is `n "starenpost" genoem. Verspreide rotse het hierdie lêplekke beskut. Daar was dus geen branders wat kon lol nie. Nou is die snoek bewerk deur dit in mootjies te kap of te vlek.

Die skipper was gewoonlik die mootjiekapper en het die snoek in mootjies van vier tot ses gekap. Die binnegoed is uitgehaal en die mootjies aan weerskante tot op die graat gekloof. Growwe sout is in die snitte gedruk en dan in tenks of balies gepak.

Terwyl die snoek bewerk is, het die kosmaker aandete voorberei, asook kos vir die volgende dag. Hierdie "kos" wat gemaak is, het bestaan uit gebraaide snoek, gebakte snoekkuit en gekookte koppe vir die sop.

Die gekookte koppe word dan gekerrie en die geurigheid word in die snoekbene of snoekgrate opgeneem. `n Mens kan jou net voorstel dat so `n klomp manne om `n pot sop seker iets soos die volgende sou kwyt raak: "Ai, maar nou kan `n ou mos `n hond uit `n bos uit eet met so `n bak snoekkoppe voor jou."

Ja dit moet onthou word dat hierdie gekookte snoekkoppe en sop op sy beste smaak wanneer jy dit met `n "vyftandvurk" benader, want onthou, die bene moet uitgekou word. Die kuit, nog soos vandag, was en bly maar koningskos, veral as jy dit daar langs die seewater vars uit die see kon geniet. Die oorblyfsels van die vorige aand gaan die volgende dag saam see toe.

Na die snoekvangseisoen moes die mootjies ook bewerk word. Dan is daar sterk pekel gemaak en die mootjies is in die pekel gepak. Wanneer `n stertmootjie in die pekel gedryf het, was die sterkte net reg.

Die mootjies moes altyd onder die pekel wees al het dit later geel geword. Die mootjies is per stuk verkoop en het tot vir `n jaar lank goed gehou. Hierdie mootjies was regtig sout. Sout, maar vra maar vir die Weskussers, dit was destyds net die ding om smoorvis van te maak.

Hierdie goeie ou tyd het ook verbygegaan, want Dwarskersbos het net soos Velddrif en Laaiplek verander na `n toevlugsoorg vir moeë stadsbewoners wat na die rustighied en mooi natuur van die Weskus soek. Kyk maar na die pragtige Port Owen aan die Bergrivier.

Daar is nog wel vissers in oms kontrei maar hulle is trolmanne en vang pelagiese vis op die trielers.

Die era van die trekskuite mag verby wees, maar die skuite is nog volop te sien, veral hier naby Dwarskersbos so van Soverby se kant af. Hulle word nou net met enjins aangedryf.

Die manne vang ook deesdae die hardervis met spesiale nette en moet juis `n permit of plaatjie hê. In die ou dae was dit maar seker "free for all". Die nuwerwetse "rubberduck" het ook sy verskyning gemaak en moenie vergeet van die groot seiljagte wat die baai verfraai nie. `n Mens hoor maar net van die "Sundowner Cruises".

Deur: Abraham Brink
Uitreksel: Rondom Soverby

Abraham Brink II Voorwoord II Snoektyd II Byname en Poetse Bak

Top   Home   Weskus Stories   Webdesign & Hosting  

Explore the West Coast/Ontdek die Weskus
GuriQua cc ® © ABrand sawestcoast.com