South Africa West Coast

Byname en Poetse Bak - Abraham Brink


West Coast Explorer
SA West Coast
Information
Accommodation
Tours/Recreation
West Coast Map
Site Map
Nature Reserves
Fossil Park
Sea Tales & Wrecks
Floral Splendour
Birdwatching
Whale Watching
Guriqua History
Cuisine & Recipes
St Helena Bay
Velddrif/Laaiplek
Property Links
Letters/Posklip
Weskus Stories
Webdesign & Hosting
West Coast R27
Route 27
West Coast Towns
Off the Beaten Track
Accommodation
Eat Out List
Arts & Crafts List
Culture & History
From Crayfish to Iron
Abraham Brink II Voorwoord II Snoektyd II Byname en Poetse Bak

Nou die dag loop ek die man wie se stories ons hier van praat se suster, Jeanette, raak en sy wys my daarop dat hy "Taat" was, soos ons nou sal sê "pataat" en nie "patat" nie. Sy sê ook dat sy eintlik as Jeanette "Hannes" bekend is. Nou ja, dis nou so `n stukkie van die waarheid, ons kom nou aanstons by die byname en ander goeters.

Byname is seker so oud as wat menseheugenis is. So byvoorbeeld het die onderwyser wat op skool pyp gerook het, die bynaam ou "Pyp" gekry. So ook mnr. Koos Carstens wat Wiskunde gedoseer het, wat Koos Krap genoem is.

By Soverby was daar destyds heelwat families wat dieselfde van en naam gehad het en om te onderskei, moes daar byname gegee word. Dit word vertel dat ou Floors Tandjies eintlik die bynaam-uitdeler van formaat was.

By Soverby was daar dan ook `n hele paar manne met die naam Jan. Om hulle van mekaar te onderskei, was daar dan Jan Wynwa, Jan Boel en Jan Riempies. Daar was ook Frederik Klippies wat `n hele paar seuns gehad het wat almal klippies was, behalwe een wat Ben Koggelman was.

Verder in hierdie familie van mense wat die voorste vangers by Soverby was, het gekom Koos Tot en Japie Aal. Koos veral het elke oggend, wanneer die weer dit toegelaat het, die strand op sy fiets gepatrolleer. As hy gesê het daar is vis, dan moet jy weet daar is vis.

Andries Stewie het vyf seuns gehad, maar nie een van hulle het Stewie geword nie, en is op hul vanne aangespreek. Dan was daar Tienie Oudjie (Blinkstilte) wat die weer so mooi kon voorspel. Hy het gewoonlik so in die rondte gedraai en dan het hy so gekyk en gesê: "Vandag is dit seker `n Suidjie", en dan draai hy weer en sê hy dit kan `n Wessie ook wees of dit dan `n flou Noordjie wees en dit kan ook wees dat `n Ooste-luggie kom, of anders so nie, kan dit dalk `n blinkstilte wees. Daarom die bynaam Blinkstilte. Soos my vissersvriend gesê het: "Hy moet net eenvoudig in die kol wees."

Poetse in die tyd van Soverby is nie gebak om `n man te laat skade ly nie. Ons gesels oor die dag toe Orgie vir die skipper `n "parafien" blik vol sout gevra het.

Die skipper gooi die sout in `n sakkie en sit dit op sy fiets. Org loop to uit en terwyl hy uit is, vat die manne die sakkie sout en skud dit weer op die hoop uit. Marthinus Vermeulen was hier die poetsbakker.

Sakke en veral streepsakke was `n skaars ding in daardie tyd en wanneer jy moet see toe, gaan gryp jy ook maar watter soort van sak jy in die hande kon kry. Daar was dan ook toe een ou wat nie die ander mense se sakke kon uitlos nie en hy moes `n les geleer word.

Eendag toe die manne klaar turksvye geëet het, het hulle die skille in `n streepsak gegooi, lekker geskud om die dorinkies mooi eweredig te versprei en oor die rand van die steier gehang. Soos dit moes kom, gryp die ou dan ook die volgende aand die sak (met die turksvydorings) en laat waai Soverby toe.

Toe hulle begin roei en dit sweet, sê die ou: "My magtag, sowaar my ou vrou het weer my sak in die hoenner-vlooie gehad."

Nou die dag, so met die verbygaan, vertel "kopers" my `n goeie storie - ja, sy pa is ook `n Soverbyer, Rooigert, soos hy sê: Sommige ouens het nie veel moeite gedoen om vis op die swaar manier in die hande te kry nie. Hulle het sommer die maklike manier gevat - dis nou om met jou donkie of perd te ry na die steiers vis by Soverby en vir jou na hartelus `n paar bossies vis in die hande te kry - sonder betaling.

Daar word vertel dat ou Andries Netjies ook donkies gehad het, maar "kopers" verseker my dat dit nie van die ou se donkies was wat by Soverby se steiers moles gemaak het nie.

Van die vissers wat in daardie tyd roltabak gepruim het, het ook as gevolg hiervan `n toepaslike bynaam gekry.

Ou oom Jan Tolker (Tolken) het nie juis `n bynaam gehad nie, maar sy seuns wel. So kry jy vir Jon Rob, Kil of Vlugman, Japie Dollas en Hottie. Hottie se seun , Kokkie, is nog steeds `n visser van formaat en jy sien hom gereeld met die trekvisskuit op die St. Helenabaai heir langs die Onderstrand waar die harders net moet les opsê as hulle dik loop.

Nog `n storie uit die mond van `n Soverbyer:

Met die dooigety is daar min water en dis die slag dat oom Akie, toe hy so wegry met sy fiets van Soverby, sê dat die manne moet sorg dat hulle so teen drie-uur, vier-uur by Soverby is, want hy wil gooi, dit is nou trek.

Toe Akie sê dit moet gegooi word, toe kyk Org vir hom en sê: "Man, hier is mos nie water nie." Dis nou omdat dit dooiwater is. Toe sê Akie: " Magtig man, het die see dan nou opgedroog!" hy bedoel toe eintlik dat die water te min groei om te trek.

Johnnie Mostert vertel van sy pa, Prins Betjie, wat, wanneer hy opgewonde geraak het, met respek gesê, altyd gesê het: "O herretjie!". Hy't nog twee broers gehad, Ou Sterke (Freddie se pa), die konsertinaspeler van die badshuise se tyd, en Koentjie.

Ou Kiepie Tolken, die winkelier van Dwarskersbos, het ook onder die kwajongens deurgeloop. Wanneer jy gehelp trek het by Soverby, het jy ook vir jou "sêr" vis gekry. Dis in bosseis opgeryg en by ou Kiepie gaan verhandel vir `n geldjie. Dan gee die ou die geld en sê: "Sit maar die vis op die stoep neer.” Dan kom jou ou vissermaat en hy tel daardie einste vis op die stoep op en verkoop dit weer aan ou Kiepie.

Op `n dag kom daar by Soverby `n donkiekarretjie met lekker waatlemoene aan en een van die vissers koop twee waatlemoene en sit dit in `n streepsak. Toe die skipper sê hulle kan huis toe gaan, het hy die sak oor sy skouer geswaai en die 5km pad per voet aangedurf, want hy het nie `n fiets besit nie.

Toe hulle die middag een van die waatlemoene wou slag, moes hulle ontdek dat dit `n presklip was - `n ronderige granietklip wat gebruik is om die ingesoute vis onder die pekel te hou.

Op Wamakersvlei anderkant Dwarskersbos het ou Liewerk gewoon, wie se voetseën altyd geleen is om `n vissie in die hande te kry.

Een man het vir my reguit gesê, toe ek met hom gesels oor ons kontrei se byname: "Kyk, ek is Piet Tos, en almal ken my so." `n Gesonde benadering.

Deur Abraham Brink
Uitreksel: Rondom Soverby

Abraham Brink II Voorwoord II Snoektyd II Byname en Poetse Bak

Top   Home   Weskus Stories   Webdesign & Hosting  

Explore the West Coast/Ontdek die Weskus
GuriQua cc ® © ABrand sawestcoast.com